Werk by ASL

Ons bied 'n werkomgewing waar balans in die lewens van ons personeel hoog waardeer en aangemoedig word. Enige student wat streef na akademiese sukses maar wie se geaardheid ruimte laat vir deelname aan die wyer studentelewe, sport of ander sosiale bedrywighede, sal by ons tuis voel.
Vereistes

By ASL heg ons waarde aan menseverhoudinge, kliëntevertroue, effektiewe kommunikasie en lojaliteit. Om ons te help om hierdie waardes gestand te doen werf ons personeel vir wie hierdie waardes ook 'n prioriteit is. Verder vereis ons dat studente wat aansoek doen om leerkontrakte/internskappe ten minste oor 'n erkende graad moet beskik. D.w.s. studente moet gegradueer wees teen die tyd dat hulle by ASL begin werk. Grade wat deur SAICA en SAIPA as geldig beskou word sluit onder ander in BRek, BCom (Finansiële Rekeningkunde), BCom (Bestuursrekeningkunde), Bcompt en BCom (CA). Tans bied ons ongelukkig nie leerkontrak-geleenthede vir matrikulante nie.

ASL is, laastens, op soek na gebalanseerde individue wat die werkomgewing hul eie sal maak, sal deelneem aan sosiale aktiwiteite, betrokke sal raak by gemeenskapsdiens soos ons verhoudinge met die Aanhouwen Werk- en Sorgsentrum, en wat die "ekstra myl" met kliënte sal stap.
#ASLtalent
Vrae & Antwoorde
Kyk Meer

V. Sal ek my studies kan voltooi as ek nie my Honneurs op universiteit kan behaal nie, of as ek om die een of ander rede nie aan die universiteit kan studeer nie?

A. Ons bied ruim studieverlof aan leerlinge wat verder studeer en ons moedig ons personeel aan om hulle voortdurend te ontwikkel en te bemagtig. Vir ons CTA-studente wat deur Unisa studeer bied ons 'n akademiese ondersteuningsprogram wat grootliks die ondersteuningsfunksie van lektore by voltydse inrigtings naboots. Die sukses van die program het tot dusver ons verwagtinge ver oortref en ons is trots op 'n 100%-slaagsyfer.

V. Sal ek 'n tent werk toe moet bring?

A. Hoewel ons soms noodsaaklikerwys oortyd moet werk, bevorder ons 'n gesonde leefstyl! Dit sal dus nie nodig wees om oornag op kantoor te bly nie, maar skaf gerus die tent aan want ons leerlinge gaan gereeld met kampuitstappies na, onder andere, Piketberg, Tulbagh en soortgelyke plekke waar hulle bergklim, kampeer, ontspan en hulle net geniet.

V. Hoe vergelyk ASL se opleiding met dié van ander firmas?

A. Opleiding is een van ASL se steunpilare en ons fokus beslis op die verdere ontwikkeling van ons personeel. Ons opleiding is gebaseer op die vereistes van die verskillende programme en ons verskaf die versekering dat al die bevoegdhede wat deur SAICA en SAIPA vereis word, verwerf sal wees aan die einde van die leerprogram. Ons gebruik net die beste diensverskaffers vir opleiding en daar is 'n oorvloed van interne leermoontlikhede. Ons program van mentorskap verseker dat die praktykervaring-aspek van internskappe nie verwaarloos word nie. ASL bied 'n gemaklike en vriendelike, dog professionele omgewing wat fokus op opleiding en ontwikkeling, 'n gebalanseerde lewenstyl, en sosiale betrokkenheid by die omliggende gemeenskap

V. Waarom sal ek meer leer, meer groei en my meer geniet by ASL?

A. ASL fokus 100% op persoonlike verhoudinge, nie slegs met ons kliënte nie maar ook intern. Ons help mekaar om te leer, en 'n deel van ons uitstekende spangees kan toegeskryf word aan ons sterk mentorskap-ingesteldheid. Niemand staan in die pad van jou groei by ASL nie; trouens, daar is wonderlike geleenthede om te kies en te keur!

V. Het ASL landswyd kantore?

A. Ofskoon ons slegs 'n kantoor in Somerset-Wes het lewer ons diens aan kliënte oor die hele land – van Johannesburg tot die Augrabies in die Noord-Kaap, van Bloemfontein tot die Langkloof in die Suid-Kaap, en tussenin. Meeste van ons kliënte is in die Helderbergkom, Stellenbosch, Franschhoek en Paarl gevestig en ons probeer verseker dat personeel nooit langer as vier dae uithuisig moet wees nie. Niemand geniet dit om uit 'n tas te leef nie en ons doen ons bes om te verseker dat elke personeellid aan die einde van die week huistoe gaan!

V. Ontvang jy voldoende ondersteuning en blootstelling as jy jou internskap by ASL deurloop?

A. Sekerlik! Ons direkteure is dikwels op die pad maar wanneer hulle op kantoor is, is dit maklik (en gou) om hulle met navrae te nader. Die kantoordeure van die direkteure en bestuurders staan altyd oop. Ons ontvang dikwels besoek van spesialiste, en interne opleiding word van tyd tot tyd geskeduleer om personeel op die hoogte te bring met die beste praktyke en met veranderinge aan wetgewing en stelsels.
Kyk Minder
ASL_WebLogo_Small2015_Raising.png
Ouditeure | Geoktrooieerde Rekenmeesters | Adviserend | Trust

2017/2018 Belastinggids Beskikbaar Hier
Trident Park, 1 Niblickweg, Somerset Wes, 7130
Tel: 021 840 1600 | Faks: 021 840 1601 | E-pos: info@asl.co.za

Button_Email_M.PNG Button_FB_W.PNG Button_Twitter_W.PNG Button_LinkedIn_W.PNG Button_Blog_W.PNG Button_Insta_W.PNG Button_YouTube_W.PNG

BTW No. 4290192410 | Reg. No. 2000/026621/21 | ASL Ing. Alle Regte Voorbehou - 2016
Powered by SucceedGroup